Menu

Vlermuise vir beheer van motte

Vraag:

Die idee om vlermuise te gebruik om insekte in boorde te beheer is baie oud, maar waar kan ons detail en SA spesifieke inligting kry oor dit? Spesifiek karob en vals coddlingmot in pekanboorde. Groete. Hannes

Antwoord:

Daar is reeds boere in die George-omgewing asook in die Laeveld wat vlermuise aanwend vir plaag-insekbeheer. Daar is net een manier om vlermuise in boorde in te lok en dis met die oprigting van vlermuiskaste. Vlermuise trek geredelik in kaste in as dit in die lente, somer of herfs opgerig word.

Bat Conservation International het op hulle webtuiste www.batconservation.org  verskeie planne waarvolgens vlermuiskaste van alle groottes en vorme gebou kan word. Die eenvoudige kaste wat plat in konstruksie is, huisves gewoonlik ‘n paar honderd vlermuise maar die groot modelle wat soos kiste gebou word, kan etlike duisende vlermuise huisves.

Boere kan ook kontak maak met John Enslin by 072 441 3652 en theowlhut@gmail.com ; hy bou namens die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging uilkaste en vlermuiskaste op aanvraag teen baie billike pryse.

Ek kan maar net aanbeveel uit dit wat ek in die veld waargeneem het. My aanbeveling sou wees om een groot kismodel vlermuiskas per 20 ha boord op te rig. Die kas moet ongeveer ses meter hoog op ‘n stewige paal staan en dit kan in die oopte sonder enige beskerming staan. Dis goed om spreiligte naby die kas op te rig want dit lok insekte wat weer maklike kos vir die gevleuelde soogdiertjies verskaf.

Sover my kennis strek is daar in Nieu-Meksiko ‘n 4 miljoen-sterk vlermuiskolonie wat per nag 700 ton insekte verorber. Dink net hoeveel waarde ‘n kolonie vlermuise op ‘n plaas vir die boer kan bring in terme van kodlingmotte, kewers, muskiete en ander skadelike insekte wat hulle verorber.

Benewens die ongelooflike plaagbeheerdienste wat die vlermuise gratis verskaf, is daar ook die vermaaklikheidswaarde vir die “eienaars” van vlermuiskolonies. Geen mens kan se oë glo as daar binne 30 sekondes bykans 5000 vlermuise uit ‘n kas peul op hulle jagtogte die skemer in nie. Dis werklikwaar besonders. Daar is ook die mis wat onder die kas versamel wat besondere goeie bemesting vir tuine is.

Van die mites wat die vrouens gewoonlik glo is dat vlermuise in hulle hare sal invlieg, dat vlermuise vol vlooie en parasiete is, dat vlermuise hondsdolheid aandra en dat vlermuise mense byt en bloed drink. Die waarheid is die volgende: Geen respektabele vlermuis sal in ‘n vrou se hare invlieg nie want dis eerstens nie goed vir die vlermuis om ‘n warboel kleurstowwe, lakke, geurmiddels en krullemakers in te vlieg en tweedens het die vlermuis geen belang daarby nie. (Ek maak hierdie stelling tong in die kies net om ook die vroue se aandag op die vlermusie te vestig.)

Vlermuise soos alle ander diere insluitende die mens, dra wel ektoparasiete maar nie in so ‘n mate dat die mens sal affekteer nie. Vlermuise mag wel hondsdolheid dra maar die statistiek het bewys dat minder as 4 mense per 100 jaar in Suid-Afrika hondsdolheid opdoen as gevolg van vlermuisbyte en dus is huisbrakke duisende kere meer gevaarlik as ons gevleuelde insekvreters. In Suid-Afrika is daar geen vampiere of bloeddrinkende vlermuise nie en dus is daar geen rede om te glo dat vlermuise menses al byt nie.

Vlermuise is uiters nuttige diertjies, baie mooi en wonderlik om te hanteer. Ons het ‘n groot verantwoordelikheid om hierdie diere te bewaar en as vrylewende, kostelose plaagbeheeroperateurs aan te wend. Ek wil ook aanbeveel dat boere die boek oor vlermuise van Ara Monadjem, Peter John Taylor, Woody Cotteril en Corrie Schoeman uitgegee deur Wits University Press en SANBI aankoop. Dis ‘n wonderlike boek met kleurfoto’s van al die vlermuissoorte van die suidelike en sentrale dele van Afrika.

Geskryf deur dr. Gerhard Verdoorn van die Griffon Gif-inligtingsentrum.

25 November 2010

22 November 2010

3913 keer gelees | 1 kommentaar

Kommentaar
Slegs in Afrikaans


wilhelm

2013/02/24 08:01:04 PM

ek hou van hierdie interessante artikel

Naam Kommentaar
E-pos
Tik in die nommers  

Vind jou perfekte maat nou!

Ek is 'n:
Stel belang in:
Ouderdom: tot
Huidige
Ligging:
Wys net profiele met foto's

Teken in vir die nuusbrief

Teken in op Landbou se weeklikse nuusbrief deur jou e-posadres hier in te vul.

Lewende Hawe

Soort 15/04/14 22/04/14 %
Beesvleis A2/A3 3446c 3452c down 0.2
Speenkalf (lewend) 1719c 1726c down 0.4
Skaapvleis A2/A3 4709c 4730c down 0.4
Varkvleis (gem. prys) 2132c 2119c down -0.6
Braaikuikens 1721c 1729c down 0.5

Aandele