Vra vir Faffa

Skape het opgeswelde gesigte

Vraag

Ons het hier vier skape waarvan die gesig en ore opgeswel is. Verlede jaar was daar ook van hulle wat dié simptome gewys het. Advies was dat dit slangbyt is. Ons weet nie regtig wat dit is nie en weet ook nie wat om daaromtrent te doen nie. - Alwyn de Beer (bovlei@lando.co.za)

Antwoord

Vraag:
Ons het hier vier skape waarvan die gesig en ore opgeswel is. Verlede jaar was daar ook van hulle wat dié simptome gewys het. Advies was dat dit slangbyt is. Ons weet nie regtig wat dit is nie en weet ook nie wat om daaromtrent te doen nie. – Alwyn de Beer (bovlei@lando.co.za)

Antwoord:
Die grootste oorsaak van liggevoeligheid is geeldikkop wat deur verlepte jong duwweltjies wat geëet word, veroorsaak word. Heel waarskynlik is dit die probleem in hierdie geval. Daar is ook ander plante soos bv. die klaaslouwbos, vuursiektebos en ganskweek wat gifstowwe bevat wat die lewerselle beskadig. Die lewer kan nie filloëritrien (‘n afbreekproduk van chlorofil) en galpigmente uit die bloed verwyder nie. Die filloëritrien is ‘n liggevoelige stof, wat wanneer dit met ultravioletstrale van die son in aanraking kom, weefselskade veroorsaak. ‘n Mens sien dit veral waar die dier se ore, ooglede en gesig aangetas word.

As diere baie van hierdie plante vreet, kan hulle vinnig vrek. As hulle egter bietjies-bietjies vreet, wissel die swelsel van effens geswelde ore tot ‘n geweldige swelsel van die hele kop. Die lippe kan so styf wees dat die dier nie kan vreet nie. Vloeistof kan uit die vel sug, korste vorm en krake verskyn daarna in die vel.

Na ‘n week of twee kan die vel begin afdop en die ore en dele van die ooglede kan afval. As ‘n skaap vrek, is die karkas gewoonlik geel verkleur en die lewer is geswel, bros en geelbruin. Die niere is meestal ook beskadig.

Om die siekte te voorkom, moet diere uit die kamp geneem word waar dié plante voorkom. Kry die diere onder dak of digte skaduwee en kleur die aangetaste dele met stoofpolitier. Laat diere saans wei en gee goeie sagte kos (goeie hooi met melasse, gebalanseerde voermengsel). Gee lewerondersteunende middels soos metionien en tioksien.

Vel-letsels moet behandel word met ‘n antiseptiese, olierige wondsalf bv. speensalwe vir melkkoeie. As ooglede aangetas is, gebruik antibiotiese oogsalwe — mastitismiddels kan gebruik word. Was nat wonde met soutwater, maak hulle droog en beskerm wonde teen brommers. (Difly, Intervet – Reg. No. G2155 Wet 36/1947)

Voorkoming:
Moenie kampe oorbewei nie. As daar min weiding is, soos tydens droogtes, sal diere enigiets vreet. As daar genoeg goeie weiding beskikbaar is, sal die diere gewoonlik nie dié plante vreet nie. As skape op sappige aangeplante weiding loop, het hulle behoefte aan ruvesel en sal hulle soms enige kos vreet. Diere wat intensief gevoer was, sal ook soms enige plant vreet.

Ander plante wat ook betrokke kan wees is Brachiaria -grasse, Lantana, Lippia (beukebossie), sweedse klawer, basterklawer, rooi klawer lupine soorte en Vaalbos. Dikoor word veroorsaak deur Buffelsgras waar swamme (Pithomyces) wat op die grasse groei, ook ‘n rol kan speel.

Dikkop sonder geelsug word veroorsaak deur bokwiet, klawergras of klitsklawer en Hypericum.

Daar is ook ‘n siekte, Dikkop, wat veral by ramme voorkom. Wanneer hulle baklei en wonde aan die kop ontstaan, dring ‘n kiem, Clostridium novyi, die dier binne wat swelling van die kop veroorsaak. ‘n Entsof is beskikbaar vir voorbehoeding en moet tydens puberteit toegedien word.

Bronne:
Kleinveesiektes, 1994, De Wet, J en Bath, G , Tafelberg ISBN 0624032035.
Vergiftiging van mens en dier, 1949, Steyn D.G., J.L van Schaik.
Plant poisonings and mycotoxicoses of livestock in Southern Africa, 1988, Kellerman, T.S., Coetzer, J.A.W en Naude, T.W. ISBN 0192705009.

4 Februarie 2005


Kommentaar

Een kommentaar op “Skape het opgeswelde gesigte

  1. Annatjie Haasbroek
    Annatjie Haasbroek

    Wil graag weet wat om te doen as die skaap se kop geswel is en wat moet ek doen sodat dit nie die trop aansteek nie. Ek voer my skape soja bale omdat daar geen weiding vier hulle beskikbaar is nie. HELP ASB.


Lewer Kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.