Vra vir Faffa

Pensmis in skaap se mond

Vraag

'n Leser vra waarom daar pensmis in een van haar skape se bek is en een van ons kundiges help.

Antwoord

Vraag:
Ek het ‘n skaap wat maer is, maar verder lyk sy gesond. Ek doseer gereeld vir wurms en bosluise. Ek het nou weer vir wurms gedoseer en toe ek die doseerspuit in haar mond sit, sien ek waterige pensmis uitkom. Wat kan dit wees? – Michelle (comutil@lantic.net)

Antwoord:
Pensmis in die bek, is slegs tydens herkou normaal. Gewoonlik sal herkouers net as hulle rustig en gemaklik is die herkoutjie opbring. Andersins is dit moontlik in ou skape dat die tande sleg afslyp, die kiestande uitval of te lank uitgroei. Die gevolg is dat die skaap nie die kos behoorlik tussen die tande hou nie, dit verkeer buite die kiesholte en kan dan uit die bek uitval.

In vroeë dae sê die boere dat die skaap sy herkoutjie verloor het en gaan vrek. Regte voorspelling, maar die verkeerde redenasie. Hierdie ou ooi met slegte tande gaan al hoe moeiliker vreet en sal mettertyd kwyn en vrek.

‘n Ander oorsaak van misbek is die vermeersiekte plant Geigeria ornativa wat die slukderm verlam en die dier laat opgooi. Nog ‘n ander moontlikheid is gesigsverlamming wat deur die kiem Listeria monocytogenes veroorsaak word. Die kiem kom veral in slegte kuilvoer of besmette voerbakke voor.

Afgesien van die misbek is een van die ore, die ooglidspiere en die bek eensydig verlam (lyk na beroerte). Dit word ook beweer dat misbek deur te fyn gemaalde voer kan ontstaan, maar dis nog nie bewys nie. Ander oorsake wat raar is, sluit senuweebeskadiging van die voormae in, dus kan die dier die herkouproses moeilik beheer.

As die probleem voortduur, behoort ‘n behoorlike veeartsenykundige ondersoek onderneem te word.

 

  • Geskryf deur prof. Gareth Bath, Fakulteit Veeartsenykunde, Universiteit van Pretoria.

    30 April 2009


Lewer Kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.